Die seuntjie op die mat …

December 20, 2017

Die seuntjie op die mat – ’n Kersfeesstorie …
’n Kind is nie veronderstel om oor Kersfees sy hartjie uit te huil nie.
Of van die rou wreedheid van verganklikheid te leer nie.
Veral nie as jy ’n brose drie jaar oud is nie.
’n Energieke woelwater-seuntjie in ’n huis vol mense kan van ’n Kersvakansie ’n senutergende uitdaging maak. Daarom was almal ’n bietjie verlig toe sy ma betaal vir ’n DVD om hom vir ’n halfuurtjie of wat onder ons voete uit te kry.
Hy het plat op die mat vlak voor die skerm gaan sit. Ons sou anderdag ons weer bekommer oor die agteruitgang van piepjong ogies en die manier waarop sy lyfie ongemaklik ineengestrengel geknoop was.
Die blakerbekkie was vir ’n wonder stil, die gelag, die nimmereindigende vrae, die doef-doef getrippel van onrustige voetjies deur die gang vir ’n wyle nie so steurend op die ore nie. Die seunskind was kop, hart en gedermtes gefokus op die wedervaringe van die sneeuman in The Snowman, die filmweergawe van die klassieke prenteboek deur Raymond Briggs.
“I remember that winter because it had brought the heaviest snow I had ever seen. Snow had fallen steadily all night long and in the morning I woke in a room filled with light and silence, the whole world seemed to be held in a dream-like stillness. It was a magical day… and it was on that day I made the Snowman.”
‘Magic!’ – die woord wat die ervaring van daardie dag die beste beskryf.
Sy kleiner sussie kon maar oor hom klim en klouter, die selfone kon uit alle rigtings skel, die bure kon kom kuier, almal kon raas en blaas, Jingle Bells, Stille Nag, Bony M, vir die woelige van hierdie wêreld was die seuntjie op die mat verlore.
Die storie word nie met woorde vertel nie, maar daar is musiek, die klanke van vreugde, van vrede, van Kersvader, van vriendskap, van omgee vir mekaar, van uitsien na die dag van môre, na dinge wat wag om te gebeur. Liefde. Hoop. Goeie dinge, mooi dinge.
Behalwe dat die goeie tye nie vir altyd sou aanhou nie.
Want die seisoen sou draai, die winter sou wyk en die somer en die lig sou deur die koue en die donker van die nag breek.
Op sigself natuurlik rede om fees te vier.
Behalwe dat niks dieselfde bly nie – en dat ’n sneeuman wat die een dag nog trots en fier voor jou deur staan oornag kan smelt. Sommer so, sonder waarskuwing, sonder dat jou kleinseuntjiekop en hart voorbereid is op die verlies van jou vriend met ’n wortel vir ’n neus.
Toe die karaktertjie in die DVD gretig by die deur uitstorm om ’n nuwe serp om sy vriend, die sneeuman, se nek te hang, het daar van hom … wel, net ’n nat kolletjie oorgebly.
Die smartlikheid van ’n hoed en serp wat op ’n hopie sneeu agtergebly het, sou enigiemand aan die hart gryp.
Maar vir die seuntjie op die mat was die skok te veel, te onverwags. Wat? WAT???
Kan dit ooit waar wees? Waar was die sneeuman dan nou? Wat op aarde gaan hier aan?
Dit was tog nie hoe ’n storie moet eindig nie. Nie hoe die stories wat sy pa en ma saans vir hom lees ooit geëindig het nie.
Sy ogies het verdrink in die trane. Dit was nie ’n gewone huil daardie nie. Nie die huil wat ’n seuntjie soms uithaal om sy sin te kry nie. Of sy woede te wys nie. Of om eina te sê as hy sy toon stamp nie. Dit was nie ’n harde huil nie, dit was die sagte gesnik van ’n seuntjie wat daardie dag ’n stukkie van sy onskuld verloor het. Wat, soos sy ma en pa voor hom, moes leer dat nie alle stories ’n gelukkige einde het nie.
Veral nie as jy met die beperkte insig van jou mense-oog daarna kyk nie.
“Sit dit weer op, Mamma,” het hy gepleit. “Seblief, Mamma!” Sy skraal lyfie, sy smal skouertjies, die troostelose gesnik deel van die smeking. Die hoop ’n flou vlammetjie dat die verskriklikheid hierdie keer anders sou wees, dat die hartseer in vreugde sou verander. Dat die sneeuman nog aan die einde van die storie daar sou wees. Vir ewig en altyd.
Dit was sy ma wat lydsaam verduidelik het dat ’n ‘kyk weer’ nie sou help nie, dat selfs sý, wat dit graag vir hom anders sou wou hê, nie die uiteinde van die verhaal vir hom kon verander nie.
Die naarheid van die ‘waarheid’ sou maar net mooitjies weer eens in die gesig gestaar moet word.
My hart wou breek, ek wou keer, ek wou vertel van ’n sneeuman-hemel, daar waar dit altyd ver onder vriespunt is, dag en nag, jaar na jaar en waar sneeumanne nooit, ooit weer smelt nie.
Maar soms kan ’n leuen selfs wreder wees as die waarheid.
“Toemaar, moenie huil nie,” het iemand wat die gesnik gehoor het, maar nie werklik geweet het waaroor dit gaan nie, met die beste moontlike voornemens vanuit ’n hoek probeer troos. “More sal die son weer skyn …”

Advertisements

Masjientjie-manewales …

November 22, 2017

 

Deel 1

 

Omdat ek gereeld soetgoed in die mond prop.

En omdat ek Google het wat alles van simptome vir elke siekte onder die son af weet.

En omdat dit altyd vir my voel ek het ál daardie simptome vir elkeen van daardie siektes onder lede.

En omdat dit altyd vir my voel ek het ál daardie simptome vir elkeen van daardie siektes onder lede.

En omdat ek ook nog ingeskryf is op etlike mediese webblaaie wat e-posse stuur met die vreeslikste doemvoorspellings oor diabetes en ander kwale wat jou letterlik tot die dood toe kan teister, sonder dat jy daarvan weet … Dáárom het ek veiligheidshalwe vir my ’n hele paar metermasjientjies aangeskaf. Sodat ek voorbereid kan wees.

Ek weet nou so af en toe naastenby wat my bloeddruk is, en my suiker-lesing en selfs, as ek nou regtig moet opklim, wat my skaal vir my sê. Soort van.

Maar soms vergeet ek ’n bietjie van my ipekonders as die son so mildelik skyn in Suid-Afrika en ek besig genoeg raak met lekker dinge en nie na doodgaan voel nie.

So onthou ek die oggend dat ek darem lanklaas daardie suikermasjientjie gebruik het, maande laas om die waarheid te sê.

En ja! Toe ís dit ook so. My bloedsuiker is hoog, sky high, soos dit gewoonlik beskryf word, in die dubbele syfers in wat niks goeds voorspel nie.

Ek skrik.

Ek ‘worry’. My hele dag is daarmee heen. Ek toets weer. Nee, dis nie ’n fout nie, ek kry dieselfde aaklige getal wat elektronies my in die gesig staar.

Dis ’n dag vol verwyte. Ja, ja, ek wou mos, wil mos nie hoor nie, is mos verslaaf aan wine-gums en ’n sjokoladetjie hier en daar wanneer niemand sien nie.

Dit werk blykbaar nie op dieselfde prinsiep as die boom wat in ’n woud val waar niemand dit sien nie. En daarom nie ’n geluid maak nie.

Soetgoed stoot jou suiker op, of jy dit nou verorber waar niemand dit sien nie, of in die openbaar waar almal jou aanstaar.

En soetgoed maak nie net vet nie, soetgoed maak siek.

En wat nou?

Ek roep my naaste nader en prik sy vinger voordat hy kan kapsie maak.

Sy lesing is nóg hoër. Dit troos ’n bietjie. Dis nie net ék wat oortree het nie, nie net ék wat my te buite gegaan het nie, nie net ék wat aan die doodgaan is nie.

Maar dis nog altyd hoofsaaklik ék wat agter die kospotte staan.

Die dood is in die pot en dis ék wat daardie potte roer.

My skuld, my skuld dat ons al twee nou sterk op pad is om diabete te word. Of dalk al klaar is.

Gelukkig kry ek dadelik ’n afspraak by die dokter. Vir ons al twee. Dis ’n noodgeval. Want iewers eet ons iets verkeerd wat radikale en fatale gevolge kan hê. Iets anders as die skelm sjokolade, behalwe as die naaste hom dalk ook daaraan skuldig maak.

Dis ’n gawe dokter, so kalm soos ’n psalm, toets eers my suiker – en kry ’n heelwat laer lesing. En die naaste se lesing is ewe laag.

En die dokter is nie op hol soos dokters soms maak nie.

Ons weet nie of ons moet lag of huil nie, want hoe is dit moontlik?

By die huis gekom, prik ons weer eens, vir die derde, vierde keer die dag, ons vingers en pers ’n druppel bloed uit.

En weer kry ons ’n lesing wat jou met ’n hekse-gekekkel koggel.

Min dae, min dae!

Dis toe die naaste woedend die ‘papiertjies’ in die vullisdrom gooi, dat ek die vervaldatum op die boksie raaksien. En daaroor begin wonder.

Nou weet ek – alles en almal het ’n vervaldatum – ook die strokies waarmee jou bloedsuiker gemeet word.

En strokies wat nie meer op datum is nie, skeer die gek met jou.

Ag ja, daar ís nie pille vir domheid nie.

Maar ai – wat ’n soete verligting.

type-2-diabetes-cartoon-238328.jpg

Nie alle stories het `n ‘happy ending’ nie …

October 31, 2017

Nie ’n ‘happy ending’ nie.

Die ‘nare’ storie oor die hawelose duiwe wat nie ’n holte onder die poot gegun is nie, het ander spoke uit die verlede wakker gemaak.

Jy mag nie lieg nie.
Of die woord ‘lieg’ gebruik nie.
Ook nie leuens vertel nie.
Veral nie vir jou ma nie.
Okkie jokkie.
Nooit-ooit nie. Geen uitsonderings, geen verskonings.
Want dis nie net verkeerd nie, dis sonde ook.
So leer mens jou kinders van kleins af.
Want jy leer self ook nog oor kind-grootmaak – uit die Bybel … en by Doktor Spock … en soms by dokter Jan van Elfen.
Vra hulle jou iets wat jy nie wil of kan antwoord nie, soek jy uitkomkans.
“Dis grootmensgoed,” ontmoedig jy hul vrae vroeg in hul lewens al.
“Julle is nog te klein om dit te verstaan.”
“En Kersvader, Mamma?
En die Tandemuis? En Goue Lokkies, en, en, en … Is hulle rêrig?”.
“E… kug-kug … wel, e… Hulle is kamma-kamma rêrig.”
Probleem opgelos. Soort van.
Want toe glo hulle nog alles wat hulle ma sê.
WANT: mens mag mos nie lieg nie, jou ma minste van almal.

Dis net … mens wil so graag vir jou kinders mooi stories vertel.
Maar helaas! Nie alle stories het ‘happy endings’ nie.
En nie almal leef daarna lank en gelukkig saam nie.

Alfredino_Rampi.jpgsad-woman-clipart-coloring-1.jpg

Ek onthou van die Italiaanse seuntjie wat in die tagtigerjare in ’n put geval het. En meer as 30 meter ondertoe beland het.
Die media is aangegryp deur die storie en daar is uur na uur direk van langs die put af wêreldwyd uitgesaai, oor televisie en radio. Vir dae is daar tussen vriendinne en buurvroue gesels oor die arme kind wat daar vasgesit het. Kleine muisies, grote ore en die twee snuiters in my huis hoor wat ek graag van hulle sou wou weghou. En vra toe uit oor die arme ou seuntjietjie in die diepe, donker, koue put. Die ogies swem in die trane en daar word dringend vir Liewe Jesus gebid om die seuntjie daar uit te haal.
My hart wil breek, oor klein Alfredo Rampi doer ver in Italië en oor my eie twee kinders wat tog so lief is vir ’n mooi storie. En hulle so kan inleef daarin.
Soos die een van Josef wat ook in ’n put was, maar toe gelukkig daar uitgekom het en in ’n paleis gewoon het en alles was goed en mooi.
“Toemaar,” troos ek. “Hulle grawe nou ’n skag net langs die put om by Alfredo uit te kom om hom uit die put uit op te trek.”
Die nuus vanaf Italië klink inderdaad positief. Hierdie gaan ’n storie met ’n gelukkige einde wees, besluit ek verlig. Ek en die hartseer kinders sal saam met die res van die wêreld jubel en juig en dankie sê dat die arme, bang seuntjie gered is en terug is in sy ouers se arms. Hulle sou vir hom vir die res van sy lewe net koekies en roomys voer.
Maar rêrige stories het die nare gewoonte om anders uit te draai as wat mens wil weet. Die gedril van die bore het die klein Alfredo selfs dieper in die put laat afsak.
’n Vrywilliger is aan sy voete laat afsak om ’n harnas om die klein lyfie te kry om hom op te trek. Maar alle pogings het misluk en Alfredo se stemmetjie het al swakker geraak.
Totdat dit stil was.
En twee paar donker oë, op ’n vreemde manier amper verwytend, na my gekyk het vir antwoorde.
En ek gewens het daar is uitsonderings op die reël oor om te lieg of nie te lieg nie.

Gelykenis van die duiwe

October 29, 2017

Die gelykenis van die duiwe
Weke lank hoor ek al die gepitter-patter of little feet bo die plafon. Rotte? Katte? Spoke?
Toe die gekoer van duiwe.
Wat stoei en roei en broei en paartie hou.
Kry ’n ridder met ’n leer.
’n Hele samelewing duiwe het nes gemaak in die dak.
En ’n dorpie daar gestig.
Kan hulle helaas glo nie daar los nie.
Die verhaal raak baie ‘sad’.
Nie vir sensitiewe lesers.
2 – 18 Ouderdomsbeperking, baie beslis nie vir KINDERTJIE nie.
Ridder op die leer kry toe wel met ’n gebiedende toon in sy stem die groot duiwe uitgewoel, maar … maar … wat van die eiertjies en … en … dalk … ons wil nie daaraan dink nie, wil nie weet nie, dalk … is daar kleintjies.
Diep, diep in die donker dak in verskuilde hoekies en gaatjies.
What to do, what to do?
Mens maak glo die gate toe waar die duiwe ingekom het.
Mamma en Pappa-duiwe in ’n toestand,
kan nie by hul neste uitkom nie.
Haat ons, die wrede mensekinders.
Ek-wil-nie-daaroor-praat-nie …
(Hoop maar as … as … daar kleintjies is, hulle sag in hul slaap na die duiwe-hemel sal gaan.)
And the moral of the story is …
Seker maar om nie te ‘nice’ met die duiwe van die hemel te wees nie, hulle nie te veel te voer nie.
Want dan raak hulle te tuis by jou huis.
???????????????
Maar vir nou kry hulle trooskos, hande vol daarvan.
En daar is ook pop corn op die spyskaart.
Wanneer laas het julle pop corn gemaak?
Versigtig, moenie brand tog nie.
Maar ai!
Dis pret.
Groterige kastrol.
Bedek bodem met olie, so halwe sentimeter diep.
Strooi net genoeg pop corn mieliepitte om langs mekaar op die bodem te lê. Nie te veel nie. Dit word mos baie.
Sommer terwyl die olie nog koud is.
Sit op stoof met deksel op.
En siedaar!
Wanneer springmielies ophou spring, haal van stoof af (voordat dit brand) en sprinkel sout oor.
Is lekker, baie, baie lekker.
Vra die duiwe, hulle sê ook so.

DUIF

Carla van der Spuy (sy’s so oulik!) gesels met my op litnet:

October 3, 2017

IMG_20170925_133355-003.jpgCarla van der Spuy het by Kristel Loots gaan kuier. Hier is hulle gesprek.

Kristel Loots se skryfstyl is al beskryf as “plesierig, tong in die kies, loslit, byderwets en snaaks.” Ander noem dit “chic lit”.

Kristel lag maar net. Sy skryf om te vermaak. Tog is sy bekend vir die empatie en die hope wysheid waarmee haar stories vertel word. Die ander ding wat jy ook maar kan weet van haar werk: Die liefde laat hom nie net tot bruisende jong bloed beperk nie.

Kristel Loots is die skrywer van meer as 40 boeke waarvan Sjokoladesoene en Lemoenseisoen onlangs ’n baie goeie resensie deur Juliana Coetzer op LitNet gekry het.

Soetkoekies en brandewyntertjies

In die gemelde resensie sê Coetzer: “ʼn Heerlike, smaakvolle stuk erotika maak deel uit van haar boeke.”

Dít het Kristel effens laat bloos.

Sý sê: “Die lyflike is so deel van elke vrou se lewe en speelsheid, selfs ’n tikkie roekeloosheid, maak maklik van ’n soetkoekie ’n brandewyntertjie met heelwat meer skop en smaak in. In elke kuise vrou skuil daar ’n flirt wat net wag vir die regte geleentheid en die regte man om haar flikkers voor te gooi en die mag van vrouwees te gebruik – of misbruik.”

Biografiese agtergrond

Kristel Loots het as ’n met die wind in haar hare as “klipgooier” grootgeword in die Oos-Kaapse dorpie Despatch, daar waar sy die stofstrate platgetrap het.

Haar gesin is as ietwat “anders” beskou.

Haar vriendelike, vrolike predikant-pa, van ’n effens volksvreemde kerk, was geseënd met ’n basuin van ’n basstem wat ver bo ander gehoor kon word.

Ná haar studies het sy by die boomryke Krantzbosch Bosboustasie naby Knysna begin skoolhou. Operasie Manvang het toe in alle erns begin. Draaie in Oos-Londen en Kaapstad het gevolg; sy het eers in Kimberley sukses behaal. Twee telge is uit die verbintenis gebore.

Haar inspirasie

Haar ma was tog so lief vir skryf. Op enigiets van ’n Croxley-skryfblok vir spesiale briewe, tot oefeningboeke het sy notules vir vele Vroueverenigingsvergaderings geskryf, prekies en praatjies vir die sustersbidure, treffende Bybelversies, inkopielysies en herinneringe aan haar skooldae.

Kristel het by haar ma aangesteek die oomblik toe sy ’n potlood kon vashou.

Hoewel sy glo op skool ’n taamlike bleeksiel was, sou ’n mens dit nooit kon raai as jy haar dagboeke van destyds kon lees waar haar verbeelding vlerke gekry het nie. Daarin is elke ervaring as ’n avontuur opgetower.

Veel later, by ’n ATKV-skryfskool, was dit vir haar ’n voorreg om Petra Müller as ’n groepsleier te hê.

Skryfproses

Dis toe haar kinders by die voordeur uit is, die wye wêreld in, dat sy eers die tikmasjien en later die rekenaar begin nadertrek het. “Hoofsaaklik om my gedagtes besig te hou sodat ek my nie so baie oor hulle en alles anders sou bekommer nie.”

Daar oorval die euforie van stories vertel haar toe behoorlik.

Die magic daarvan bekoor haar nog elke keer wanneer daar een van haar boeke gebore word. Niemand is meer verbaas en dankbaar daaroor as sy sélf nie. Sy beskryf dit as ’n “Blessing from Above”.

Dit was Cecilia Britz, wat as die verhaalredakteur van Huisgenoot haar kop in die rigting van liefdesverhale laat draai het, eers met kortverhale vir die tydskrif en later vir die Romanza-reeks waarmee LAPA sulke groot sukses behaal het. Hieruit het die skryf van liefdesromans gespruit, ’n genre waarin Kristel haar steeds bevind.

“Die stories wat skree om vertel te word, tuimel oor mekaar in my kop, maar dis nie altyd maklik om met die pynlike, maar ook prettige en plesierige proses te begin nie.”

Kristel glo dat die muse en verbeelding tweelingsusters is. Beide is nodig om woorde aan ’n storie te gee en sy vermoed Joshua Foer het oor haar skouer geloer en toe die volgende geskryf het: “One of the great challenges of our age, in which the tools of our productivity are also the tools of our leisure, is to figure out how to make more useful those moments of procrastination when we’re idling in front of our computer screens.”

Dis nou wanneer sy nog één keer na iets nuuts op Facebook gaan soek het en doodseker gemaak het daar is nie intussen vir haar e-pos afgelewer is nie, dan pak sy uiteindelik haar manuskrip. Maar net totdat die volgende SMS deurkom …

Stokperdjies en belangstellings

Kristel het ’n draai by die Toast Master’s Klub in Bellville gemaak waar die lede in openbare optrede afgerig word en beurte moet maak om toesprake te lewer. Om ’n gehoor te hê wat uitgelewer aan haar moet sit en luister na wat sy ook al in haar toespraak kwytraak, is volgens Kristel ’n voorreg wat nie veel vroue beskore is nie.

Dan sluit sy ook soms by die Goodwoodse Leeskring aan en verstom haar aan die leeslus en geesdrif wat daar onder die lede heers. “Om nie te praat van die lekker versnaperinge wat gewoonlik na die tyd bedien word nie. Par excellence!”

Prestasies

Sy het ’n ATKV-woordveertjie gewen vir Eendagmooi en die opvolgboek, Die ander vrou, is die jaar daarna as ’n finalis vir die Woordveertjies aangewys.

Haar gunstelingskrywers:

Kristel lees taamlik lig, min of meer die soort boek wat sy self ook skryf.

Jilly Cooper, met haar tong stewig in die kies, is ’n besliste gunsteling; asook Marian Keyes, wat sy dink daarin slaag om ernstige temas met fyn beskrywings en ’n tikkie humor aan te bied. Sy hou ook van Adele Parks en ’n verskeidenheid Britse skrywers, veral dié wat liefdesverhale met ’n humoristiese aanslag skryf.

Sy sonder nie graag Afrikaanse skrywers uit nie, maar hou van enigiets wat voel “asof dit waar kan wees”.

Haar gunstelingboeke:
◾Jilly Cooper se “beginnerboeke” soos Bella, Imogen, Harriet en Octavia.
◾Marian Keyes se Sushi for Beginners.
◾Alta Cloete se jongste boek, Opdrag van oorkant.

Haar gunstelingaanhaling uit ’n boek

“Why do writers write? Because it isn’t there.” Thomas Berger.

’n Gunstelingaanhaling uit een van haar eie boeke

In Eendagmooi staan: “Sy voel miskien nooit besonder kosbaar of waardevol nie, maar sy voel altyd nódig. Soos ’n elektriese implement wat die lewe vir ’n mens makliker maak. Iets wat, soos die Kama Sutra, met instructions for use kom. Soos ’n broodrooster wat vier snye brood gelyktydig brosbruin kan rooster of ’n mikrogolfoond waarin dinge vinnig warm of gaar kan kom.”

Volg Kristel Loot op die sosiale media

Facebook: https://www.facebook.com/kristel.loots

Vet feetjies vlieg vrolik en vry op Vrouekeur se bladsye rond. Mal daaroor: https://www.vrouekeur.co.za/bekendes/skrywers/kristel-loots-vet-feetjies

October 3, 2017

Lucy Lombaard, die heldin in Kristel Loots se roman Vet feetjies vlieg nie, is behep met feetjies. Kristel Loots gesels oor dié boek

“Dis nie vir my aldag maklik om my met feetjies te vereenselwig nie, veral nie die moderne soort wat soms ’n bose fee in hulle ronddra nie,” sê Kristel, “maar ek is helaas vertroud met die wanindruk dat vet feetjies nie vlieg nie. Tydens my laerskooljare is ek as een van ’n horde feetjies gevra, nee, bevéél, om eenkant te staan tydens ’n dansie wat deel van ’n feëverhaal-skoolkonsert uitgemaak het omdat ek in my lompheid die choreografie in chaos gedompel het. Daar was dus ’n baie ontevrede feetjie wat eenkant tussen die bome van karton met handjies omhoog bly staan het terwyl die ander bosnimfe hul lyfies in perfekte ritme rondswaai.”

“Om ‘guitig’ te wees, is deel van vrouwees, ’n speelsheid wat gekoester en geniet moet word en nie afgestomp mag raak nie,” sê Kristel verder. “Dis sommer ook ’n manier om die jare wat jou om die hoek beloer, skrik te maak en weg te jaag. ’n Vrou moet elke af en toe ’n bietjie flirt, net om in oefening te bly. Moenie kuis in die kombuis of beentjies oorkruis op die rak vir jou droomprins sit en wag om op te daag nie. Gaan soek na hom! Die arme man het heel moontlik verdwaal en is te hardkoppig om vir aanwysings te vra.”

kristel-loots[1].jpg

Vet is nie pret nie

October 1, 2017

FFFFFFFFFFFFFF.jpgOf so sê “hulle”. Nie dat ek sal weet nie,natuurlik nie. Nie met hierdie nommerpas lyf van my nie. Nommerpas? Miskien,ja,maar waffer nommer?
Vrouekeurartikel oor die onderwerp:
Vet is nie (altyd) pret nie – Kristel Loots

Yolanda * spog graag daarmee dat sy nie teen mense ten opsigte van ras, taal of geloof diskrimineer nie. Behalwe vir één, enkele uitsondering – vet mense. “Ek hou eenvoudig nie van vet mense nie,” erken sy rondborstig. “Ek kyk na hulle en ek is dadelik kwaad. ‘Kyk hoe lýk jy! Hoe op aarde kon jy jou so laat gaan het?’ wil ek vra.” Yolanda besef dat dit nie regverdig is teenoor vet mense nie, maar dit verander nie veel aan haar instinktiewe reaksie nie. “Rokers word nog vergewe, selfs drinkers wat ’n oorlas van hulself maak, maar nie mense wat oorgewig is nie,” beweer sy.

Abigail C. Saguy, skrywer van die boek. What’s Wrong with Fat, weerspreek nie hierdie siening nie. Navorsers by Die Universiteit van British Columbia beweer selfs dat dit die mens se immuniteitsisteem is wat inskop by aanskoue van iemand wat vetter is as die gemiddelde. Jou brein waarsku jou dat dit nie gesond is om so te lyk nie en die assosiasie met siekte skrik jou instinktief af.
Nie alle navorsers stem saam met hierdie kras stelling nie. Hoewel oorgewig aanleiding kan gee tot vele siektes en kwale, wat mediese fondse uitput en die belastingbetalers se sak raak, is die tendens om dit nie meer as die grootste of enigste sondaar vir ongesondheid te bestempel nie. Daarom kan vet-fobie nie suiwer aan ’n konsuis goedgunstige gesondheidsbevordering toegeskryf word nie.
Professor Gertie Pretorius, sielkundige in privaat-praktyk en deeltyds verbonde aan die Universiteit van Johannesburg se Departement Sielkunde, herinner ons dat oorgewig mense dikwels ’n swak selfbeeld het wat al reeds met emosionele pyn gepaardgaan. Enige vorm van diskriminasie dra by daartoe. Dit kan ook die persoon se loopbaan nadelig beïnvloed. Navorsing deur die Universiteit van Exeter wys dat veral vroue met ’n hoër liggaamsmassa-indeks in die werksplek as ’n geheel minder gerespekteer word as hul eweknieë met ’n meer aanvaarde liggaamsbou.
Die regte voorkoms versinnebeeld sukses en vertroue word ingeboesem op wat die blote oog sien. Wat tot gevolg het dat die loopbaangerigte plus-grootte vrou met ’n agterstand wegspring en soveel harder moet werk om haarself en haar vermoëns te bewys.
’n Radikale kopskuif is nodig, maar eers sal die vooroordeel wat oor grense heen strek, afgebreek moet word.

’n Teer sakie, wêreldwyd:
Ná die onlangse opmars van vroue wêreldwyd om te betoog teen sekere van die nuwe Amerikaanse president se uitsprake wat as ’n belediging vir vroue beskou word, het die omstrede Suid-Afrikaanse persoonlikheid, Gareth Cliff, gespot dat Donald Trump in een dag meer vet vroue aan die loop gekry het as wat Michelle Obama, wat haar daarvoor beywer het, in agt jaar kon regkry. Daar was diegene wat geskaterlag het, maar nie almal was geamuseer nie en hy is uit vele oorde geroskam oor sy vet-veroordeling.

Waarom ís daar vet mense?
Daar kan baie werklike redes vir vetsugtigheid wees en vra jy uit daarna, word ’n lang lys afgerammel wat van gene tot ’n onderaktiewe skildklier afgerammel. Volgens die navorser Jessica Tyrrell, beïnvloed jou DNS jou kanse om sekere siektes te ontwikkel. Ook vetsug. Wat daarby aansluit is die omgewing waarin jy grootword en die leefstylkeuses wat jy maak. Daar ís nog steeds ma’s wat die kinders om die oorlaaide etenstafel herinner aan die baie hongerlydendes wat dankbaar sou wees daarvoor en wat poeding as beloning beloof sodra hulle ál hul kos opgeëet het.
Soms is dit bloot ’n geval van: hulle rol so lekker, want hulle eet so lekker.
Om jou te ooreet kan as ’n verslawing soos enige ander gesien. Maar dis dalk moeiliker om met hierdie verslawing te breek. As jy dwelms of drank wil laat staan, is daar simpatie, hulp en rehabilitasie beskikbaar en probeer jy dit ten alle koste vermy. Die stimuli word so ver moontlik van jou verwyder.
Met kos is dit nie so eenvoudig nie. Jy moet eet om te leef en word dus deurentyd blootgestel aan die versoeking om jou te vergryp. Feesvierings en gesellighede van enige aard gaan dikwels ook gepaard met kos en drank – en dis selde van die soort wat gesondheidsbewustes sou voorsit. ’n Wortelstokkie het nie dieselfde bekoring as ’n sappige koeksister nie.
’n Jong vrou, Maria Kang, het in 2013, kort na die geboorte van haar derde kind, met haar vietse, fikse lyf op Facebook gespog. Wat is jou verskoning? het sy almal uitgedaag wat nie met haar kon kompeteer nie. Op die foto wat sy geplaas het, verskyn haar drie orrelpypies soos bewysstukke van haar sukses saam met haar. Sy is toegegooi onder kritiek oor haar oënskynlike verwaandheid. Wat háár betref, lê die probleem by die vetties wat nie van hul rusbanke af opgestaan kan kom nie. Oefening is ’n prettige manier om weer in jou ‘skinny jeans’ te pas en basta die res.
Tog is daar seker min vet mense wat uit vrye wil sal kies om vet eerder as ‘normaal’ te wees. As maerwees met die swaai van ’n towerstaffie moontlik was, sou die verkope van towerstaffies die hoogte inskiet.
Die tyd toe die Groot Meesters vroue met kurwes geskilder het en dit beskou is as strelend vir die oog, is vir altyd verby. Maar selfs die wêreldbekende Oprah en ander rykes en beroemdes kan nie ’n slanke lyf met al die geld in die wêreld koop nie. Dit moet met lippe teen die klippe verkry word en die vettes – en die onfikses – sal altyd met ons wees.

Is geluk saam met gewigsverlies gewaarborg?
Professor Pretorius wys daarop dat emosionele eetpatrone wat onderliggend aan oorgewig kan wees, uit emosionele pyn spruit. Daarom is om gewig te verloor nie noodwendig ’n snelweg na ewige liefde en lewensgeluk nie. Wonderlik soos dit mag wees, bring dit veranderinge teweeg wat veel verder strek as die nuwe klerekas wat jy moet bekom. Die mens is meer as net lyf en die geestelike en psigiese aanpassings kan ’n totale ommekeer van jou leefstyl, jou denke en jou menswees vra.
’n Vrou wat haar lewe lank ’n potjierol was en ná drie dekades feitlik oornag sowat veertig kilogram gewig as gevolg van siekte verloor het, verklaar met trane in haar oë: “Ek soek my vet met ’n seer hart. Ek wil die lyf hê waarmee ek saam oud geword het en ek wil al my gunsteling uitrustings dra.” Sy behoort nou meer beweeglik as vroeër te wees, maar word deur haar siekte en gebrek aan energie gefnuik.
’n Blogger wat ná ’n noemenswaardige gewigsverlies, haarself nog steeds Fat Girl noem, beskryf die skok vir die sisteem om jouself in die spieël te sien en skaars te herken. ’n Geleidelike gewigsverlies berei jou eerder voor op hierdie gedaanteverwisseling. Wanneer ’n operasie of ander eksterne faktore dit bewerkstellig het, kan dit jou heeltemal van balans gooi. Fat Girl verstaan dus waarom dit so maklik is om weer die gewig aan te sit. In jou kop dra jy nog die ekstra gewig en jou verkeerde eetgewoontes met jou saam. Dis deel van jou identiteit waaraan jy moontlik ’n leeftyd lank gebou het. Jy kan selfs ontuis voel in jou nuwe skraler lyf.

Waarom word daar so maklik met vet mense gespot?
Volgens Joni Edelman, redakteur van Ravishly.com, kan die haatspraak teenoor vet mense daaraan toegeskryf word dat die spotters voel hul diepgegronde, dikwels lewenslange ‘geloof’ word aangeval. As dit dan waar is dat jy jou nie ewigdurend met ’n streng dieet hoef te straf om gesond en gelukkig te wees nie, beteken dit dat hulle hulself onnodig van heelwat genot ontneem het. “Dit verwar en dit maak seer en die samelewing is nog nie gereed vir daardie vernuwende denke nie,” beweer Joni.

Die man in jou lewe se oordeel
Wanneer ’n man voel sy oorgewig vrou is ’n refleksie op hom as persoon, is dit hý wat ’n probleem het, nie jy nie. ’n Man weet nie altyd hoe om negatiewe emosies te hanteer nie. Hy kan dalk voel daar is fout met hóm en daarom verdien hy nie ’n vrou met ’n slanker lyf nie. So verplaas hy sy eie minderwaardigheidsgevoel en sy verantwoordelikheid en frustrasies met sy moontlike mislukkings in die lewe van hom na sy vrou. Dis net soveel makliker as hy nie sélf die skuld daarvoor hoef te dra nie.
Die sielkundige skade wat deur oorgewig veroorsaak word kan jou, wat ’n lewensmaat betref, verkeerde keuses laat maak omdat jy glo jy hét nie ’n keuse nie en moet ‘vat wat jy kan kry’.

Wanneer daar ’n onnatuurlike emosionele afstand gehandhaaf word
In ’n essay, Headless Fatty, maak die Londense psigoterapeut, Dr Charlotte Cooper, kapsie teen die veralgemening wat plaasvind wanneer daar na die nadele van vetsug verwys word. “Dis ’n fenomeen wat saam met die stryd teen oorgewig ontstaan het. Wanneer daar gepraat word van hierdie tikkende tydbom word dit dikwels vergesel van ’n foto van ’n koplose vet mens.” Dr Cooper sien haarself ook as geset en sy voel op hierdie manier word die individu heeltemal ontken en selfs ontmens.
Vet mense in hul geheel word dan as ’n simbool gesien en medemenslikheid verdwyn van die toneel. Vet mense is dus globaal ’n kollektiewe probleem en ’n eie, unieke stem, gedagte, of opinie word nie eens by diskoerse toegelaat nie. Dit alles lei tot blatante diskriminasie teen vet mense, sonder inagneming van persoonlikheid, vaardigheid en talente.
Dit dra die boodskap van absurditeit en die ontstaan van selfhaat.
Wanneer dit ’n kind is wat so uitgebeeld word, is die skade feitlik onberekenbaar. Die internet wemel van illustrasies wat vetsug voor die voet as sleg en sondig en verkeerd afmaak.
Vir ’n gestremde is daar nog ’n mate van respek en simpatie. Dit sal beslis ’n frons ontlok as daar grappe ten koste van ’n kreupele, ’n dowe, blinde of verstandelikgestremde gemaak word. Om ’n ras of kultuur af te kraak of te bespot, word as haatspraak gesien en nie toegelaat nie. Maar vet mense is kroonwild. Hulle kan blykbaar nie op gewone, beskermende menseregte aanspraak maak nie.
Dit behoort nie so te wees nie. “Diskriminasie teen vet mense is ’n vorm van “haat-misdaad,” herinner professor Pretorius ons. “En net so pynlik soos enige ander. Om teen oorgewig mense te diskrimineer op grond van hoe hulle lyk is dieselfde as om teen enige persoon te diskrimineer wat anders lyk as jy.”

Te vet om te vlieg. Aan eie lyf gevoel:
Die lywige Hollywood-regisseur, Kevin Smith, het in 2010 ’n opskudding veroorsaak toe hy gevra is om ’n vliegtuig op ’n Southwest-Lugdiens-vlug te verlaat omdat hy as te vet beskou is om in een sitplek te pas. Die reël was dat ’n passasier in staat moes wees om beide armleunings te laat sak om vir ’n enkele sitplek te kwalifiseer en hy is as ’n veiligheidsrisiko bestempel. Kevin, wat gewoonlik twee sitplekke bespreek en twee kaartjies koop juis sodat hy gemaklik kan sit en nie sy medepassasiers se spasie sal ‘steel’ nie, kon egter op daardie spesifieke vlug nie ’n ekstra sitplek bekom nie.
Hy was veral woedend omdat hy al reeds in sy sitplek was toe hy gevra is om af te klim. Dit was vernederend, veral aangesien hy dadelik deur omstanders herken is. “Vandag het julle met die verkeerde man gesukkel,” het hy gewaarsku. “Julle gaan hiervan hoor en my nog kom vra om stil te bly.” Sy voete het skaars grond gevat voordat hy oor die insident begin twiet het en ander swaargewigte gewaarsku het dat dit ook met hulle kan gebeur. Sy 1,6 miljoen twitter-‘volgelinge’ was dadelik op hul agterpote ter verdediging van hom. Hy is toe wel op ’n later vlug ingepas en ’n $100-afslagbewys in die hand gestop, maar dit was nie genoeg om hom stil te kry nie. Die diskriminasie kon hy dalk nog verstaan, maar nie die onsensitiewe manier waarop die hele aangeleentheid hanteer is nie.
Die voorval het verder geboemerang. “Die media het met die storie gehardloop. Skielik was ek voorbladnuus. Nie oor my werk as regisseur nie, maar oor my gewig,” vertel hy op sy blog. Om as ’n vet mens tussen die mooies van Hollywood te oorleef was nooit maklik nie, maar hy is tog voorheen kameraadskaplik as Big Guy aanvaar en kon gelukkig genoeg in ’n ‘borrel’ leef. Totdat die fokus van hom as mens verskuif het na hom as frats.
Vet-aanvaarding het skynbaar nog ’n lang pad om te kom voordat George Orwell se gerusstelling dat alle ‘diere (mense) gelyk is,’ as waar bestempel kan word. Tans is sommiges nog steeds meer gelyk as ander en word daar teen vet mense gediskrimineer. Vet word as lelik gesien en vet mense as vraatsugtig, lui en selfs slordig. Wat ’n roekelose veralgemening is.

*Skuilnaam

WEBBLAD
Diskriminasie teen vet mense maak seer – Kristel Loots
Oorgewig mense is dikwels aan die verloorkant op sosiale sowel as professionele gebied. Vet kinders word op skool gespot, later in hul lewens maklik in die werksplek gemarginaliseer en sosiaal vermy. Om anders na ’n oorgewig persoon te kyk, word dikwels deur daardie persoon sélf aangehelp omdat die negatiewe assosiasie en diskriminasie aan eie bas gevoel is.
Die verhouding tussen oorgewig en armoede is genuanseerd. In die nie te verre verlede is oorgewig met rykdom verbind, want die met meer geld was in staat om meer te eet. Maar in die afgelope paar geslagte, in ontwikkelde lande, is daardie siening omgekeer. In die wêreld van vandag is kalorieryke kos geredelik en goedkoop beskikbaar. Die assosiasies is intussen aangepas.

Seksisme speel ook ’n rol
Daar word ook met vet mans gespot, maar dis veral teenoor vet vroue wat daar gediskrimineer word. Vandaar ook die baie ‘Yo-mama’s so fat’-grappies wat wyd op internet en in die volksmond beskikbaar is. Daar word ook gesê ’n man se grootste vrees wanneer hy hom in ’n ‘blinde’-afspraak begewe is dat dit ’n vet vrou mag wees wat op hom wag. (’n Vrou se grootste vrees daarenteen is glo dat sy by ’n reeksmoordenaar mag beland.)
“Ons kultuur het ’n obsessie oor gewig,” herinner die blogger, Ayushi Mona. Om na ’n vrou as ‘vet’ te verwys is anders as om na haar as kort of lank te beskryf. Vet is nie net feitelik nie, dit dra swaar aan negatiewe emosie. Wanneer twee vriendinne mekaar weer raakloop, is die gewig wat verloor is – of andersins – dikwels waarna eerste opgelet en verwys word. Dit bepaal dan ook soms die verloop van die res van die vriendskap. Die gewig wat so ’n aanmerking dra moenie onderskat word nie. Daar kan nog melding gemaak word van jou hare wat begin grys word, maar nie die ekstra kilogramme wat jy deesdae met jou saamdra nie. Want jou belewenis daarvan is om in die oë van die spreker dadelik gedemoveer te word en op die onderste sport as ’n vet vrou – en dus as minderwaardig – geklassifiseer te word.

’n Feministiese siening
Jenny Bruso, ’n selferkende feminis is behoorlik keelvol daarvoor dat vet mense uitgesonder word as sondebokke na wie daar maar klippe gegooi kan word. Sy skryf die teenkanting teen veral lywige vroue toe aan die patriargale stelsel. “Dis omdat die meeste mans bedreig voel deur ’n vet vrou,” verklaar sy. “’n Vrou is veronderstel om in ’n hoekie te pas waar sy nie te veel ruimte sal inneem, haar stem te duidelik sal laat hoor of te veel amok maak nie.”
Sy raak veral moeilik omdat hierdie diskriminasie hoofsaaklik nog ’n gender-kwessie is. Vet vroue kry spotname soos ‘Walvis” of “Koei” sonder die geringste gewetenswroeging oor die skade wat dit aan ’n selfbeeld kan doen wat op sy beste dalk nie te gesond is nie. Dis veral tienermeisies en jong skoolverlaters wat swaar gebuk gaan onder hierdie treitering.
“Ja,” sê Jenny. “Vroue kán met mans kompeteer, maar net as hul met perfekte lywe onder hul korporatiewe kantoorklere spog.”
Of altans dis wat die samelewing ons wil laat glo.
https://www.vrouekeur.co.za/gesondheid/diskriminasie-maak-seer-oorgewig

Daai flippen windmeul!

February 19, 2015

Kyk, ek glo mos ons almal het maar bietjie van `n klap van die windmeul weg. Dit het ons net op verskillende plekke getref. En party het nader as die ander gestaan en is harder geklap. Het nog altyd gedink ek was net so aan die buitewyke rond, het net die windjie so by my neus verby voel waai toe die windmeul daar verbykom, net `n ligte windjie. Want ons is nie almal só nie, nie so erg nie, jy weet? Behalwe dat ek nou al dae lank met `n vreemde vrees worstel. Nie die vrees vir die wit papier of rekenaarskerm nie, die vrees om `n dokument (storie) waaraan ek weke laas gewerk het oop te maak.

Totally, totally weird. Ek skip so met die muis daaroor en gaan facebook dan maar eerder. Dis skielik asof die taak te groot is, te onmoontlik. Wat noem mens dit? Writers block? Tog nie, ek wil juis graag skryf. Dis mos maar my – en baie ander mense – se medisyne teen die frieken ‘aanslae van die lewe’ daardie. Dis iets anders as die gewone ‘uitstel’ wat ons almal seker van tyd tot tyd ervaar, dis … bangatgeit. Lyk my daardie windmeul het tog meer van n klap ingekry as net n vriendelike kloppie teen die kop. Maar ek wil, ek wil en ek moet en ek gaan … Hier gaan ek – ek’s `n dapper muis …

Swem of . . . sink

March 8, 2011

Swem of sink!
Ek wou nét genoeg Prozak sluk vir my om vir drie ure lank op die boot in ’n trance te wees. Sodat ek nie sou weet wat om my aangaan nie, nie sou weet van die gevare wat my omring nie, die onheil wat tussen die riete skuil nie, die gulsige waterwesens wat die rivier bewoon nie.
Nie ’n krieseltjie Prozak minder nie, want dan sou ek uitfreak terwyl ons nog op die water is, heen en weer aan die hol gaan, met wilde hare en oë, dalk nog sonder klere, mense en voorrade oorboord begin gooi en heel moontlik die boot met ’n dramatiese kraakgeluid en omringende bloedstollende gille laat sink.
Maar na drie ure wou ek weer wakker wees sodat ek, soos gewoonlik, kon back seat drive terug Kaap toe. Hoe anders sou ons by die huis kom?
Dis net . . . Prozak maak ’n mens nie blind nie, ook nie dom nie. Jy sien nog die water enne . . . hoe diep dit is. Diep en donker en jy weet daar is ’n krokodil of dalk nog die Lochness monster se Suid-Afrikaanse nefie wat sy lippe aflek vir ’n sappige happie. En dat die gerug onder die waterbewoners versprei is. ‘Daardie een met die hoed, die een met die bewende onderlip soos ’n heldin in ’n liefdesverhaal . . . Wel . . . sy smaak so lekker, want sy eet so lekker.”
Maar ’n mens mag mos nie in jou spore omdraai nie. Nee, dan is jy chicken en ’n spoil sport en dan weet jy sommer – geen manuskrip van jou sal ooit weer verder as Stanford kom nie. Nee, jou harde werk sal in die modder vertrap word of nét daar sink, in daardie rivier verdwyn om nooit weer van gehoor te word nie. Daarom moet jy opoffer. Ter wille van Die Kuns.
Jou senuwees.
Jou sanity.
Een stoot jou van agter af en een trek jou van voor af en jy moet teen die loopplank op. Genade is daar nie, net ’n River Rat en oë wat jou wreed aangluur. “As dié vrou ons vandag ophou met haar neurose, voer ons haar vir die visse.”
Ek sak op ’n stoel neer toe ek met ’n sug van verligting aan boord kom. Hier sit ek nou, neem ek my voor. Met my oë toe tot ons weer voet aan wal sit. Dan moet iémand maar sukkel om my van die boot af te kry. Ek het nie gevra om hier te wees nie!
Maar ek is te nuuskierig om met my oë toe te sit. . .
Want almal lag en ek hoor glasies klink.
En dié dag sien ek dinge wat my oë nog nie voorheen gesien het nie.
Hoe Chanette . . . sy hét mos ’n gesig én ’n lyf wat ’n duisend skepe kan laat sink . . . doodsveragtend oor die reling van die boot klouter om op die boeg te gaan staan om die boot aan ’n boom vas te maak. Sodat ons nie terwyl die wyn soos rivierwater in vloed vloei, seewaarts vaar sonder dat ons daarvan weet nie. Look Ma! No hands!
Dié vrou hou daarvan om gevaarlik te leef, besef ek. Daarom skryf sy roekelose verslae wanneer manuskripte by haar gaan draai het en daarom balanseer sy haar soos ’n akrobaat met ’n doodswens waar engele maar eerder versigtig sou verbyhou. En maak sy knope in die tou waarvan ons ander nog net gehoor het.
En daar lê ons toe – oorgelewer aan wind en weer en genadelose son vanuit ’n wolklose hemel. In die middel van die rivier met geen vaste aarde bereikbaar nie. What to do, what to do? Panic? Flou val? Histeries raak? Uitfreak? Mense byloop en klap dat hul ore, wat nie wou hoor nie, wapper?
Verder word daar ’n hek oopgemaak sodat die water en die gevare van die water nader aan ons is en ’n mens makliker kan uitval om na benede te stort.
Om nooit weer kop bo water te kry nie.
En . . . voor my oë, voor my verstarde oë glip Die Stanford-vrou die water in. Grasieus en asof dit normaal is vir ’n vrou met haar verstand in plek om haar vollyf in daardie malende diep, donker water te werp. En daar gaat sy, verder van die moederskip af weg, al hoe verder, verder totdat ’n mens net haar koppie doer ver kan sien dobber.
Sorry, Chanette, besluit ek, ek gaan jou nie red nie, ek gaan nie eens probeer nie. En ek gaan ook nie iemand agter jou aanstuur nie. Jy wóú mos afshow, jy moes van beter geweet het.
Ek soek die naakte vrees op haar gesig, maar daar is niks. Sy lag in die aangesig van die dood, draai op haar rug en dryf asof sy ’n blaar in die wind is. Wat haar bo hou, weet g’n mens nie en sy gaan ook nie sê nie.
Maar toe onthou ek – die vroumens is mos min of meer ’n meermin. Waternimf van formaat met die hart van ’n vis en ’n vredesooreenkoms met die see. Geen wonder die waterwesens is haar goedgesind nie, geen wonder hulle los haar uit nie.
Maar die malligheid is aansteeklik en die inkubasietydperk is nie besonder lank nie. Een na die ander tuimel die res van die seevaarders ook die water in. Met plasgeluide en met gilletjies wat die watervoëls verskrik laat wegvlieg, maar infoeter, foeter hulle in.
Dis net ék wat weet wat op my wag as ek dit in die onbekende sou waag – daar waar die waterwesens in ’n ry my staan en inwag met slagtande, die wat slagtande het en met gapende visbekke, die wat visbekke het.
Ek kyk na die spartelende swemmers om my en ek neem ’n besluit oor die wat voete én die wat vinne het: Jammer om julle én hulle teleur te stel, besluit ek – maar ék is nie mal is nie – en dis bloot toevallig dat ek nie kan swem nie, veral nie in water wat ver, ver oor my kop sal wees nie. Sodat alles om my donker sal wees as ek met ’n helse splash daarin sou beland. En niemand, nee, niemand my sal kom uithaal wanneer ek soos ’n rots sink nie. Want hulle is skrywers, almal van hulle – en hulle hou van ’n goeie storie. Een wat opbou tot ’n hoogtepunt, wel in hierdie geval, ’n laagtepunt vir mý, wat diep, diep onder op die bodem van die rivier bereik sou word. Se voet, besluit ek. I aim to please, maar darem net binne perke.
Daarom is dit toe net ék wat droogvoets . . . wel soort van . . . op die boot bly.
Ek – en darem ook die skipper.
Die skipper . . . o, die skipper, die kaptein van die skip . . . die held van die dag.
Lapa, liewe, liewe Lapa, maak julle gereed vir ’n hele reeks Romanzas met ’n riviervaart-tema en . . . ’n blonde skipper met ’n poniestert as romantiese held.
Lank ná die drie ure waarvoor die Prozak gesluk is, sit ons nog daar in die ondergaande son op die water.
Maar ek freak darem nie uit nie, wel nie heeltemal nie. Ek hou kop. En die res darem ook. Soort van.
En die skipper onthou ten minste nog waar Noord of Suid of Whatever min of meer is en keer weer huiswaarts. Daar waar die droë grond is, daar waar ons as aardbewoners hoort.
Het ek al gesê dat dit ’n heerlike dag was?

Swem of sink . . .

March 8, 2011
Swem of sink!

Ek wou nét genoeg Prozak sluk vir my om vir drie ure lank op die boot in ’n trance te wees. Sodat ek nie sou weet wat om my aangaan nie, nie sou weet van die gevare wat my omring nie, die onheil wat tussen die riete skuil nie, die gulsige waterwesens wat die rivier bewoon nie.

Nie ’n krieseltjie Prozak minder nie, want dan sou ek uitfreak terwyl ons nog op die water is, heen en weer aan die hol gaan, met wilde hare en oë, dalk nog sonder klere, mense en voorrade oorboord begin gooi en heel moontlik die boot met ’n dramatiese kraakgeluid en omringende bloedstollende gille laat sink.

Maar na drie ure wou ek weer wakker wees sodat ek, soos gewoonlik, kon back seat drive terug Kaap toe. Hoe anders sou ons by die huis kom?

Dis net . . . Prozak maak ’n mens nie blind nie, ook nie dom nie. Jy sien nog die water enne . . . hoe diep dit is. Diep en donker en jy weet daar is ’n krokodil of dalk nog die Lochness monster se Suid-Afrikaanse nefie wat sy lippe aflek vir ’n sappige happie. En dat die gerug onder die waterbewoners versprei is. ‘Daardie een met die hoed, die een met die bewende onderlip soos ’n heldin in ’n liefdesverhaal . . . Wel . . . sy smaak so lekker, want sy eet so lekker.”

Maar ’n mens mag mos nie in jou spore omdraai nie. Nee, dan is jy chicken en ’n spoil sport en dan weet jy sommer – geen manuskrip van jou sal ooit weer verder as Stanford kom nie. Nee, jou harde werk sal in die modder vertrap word of nét daar sink, in daardie rivier verdwyn om nooit weer van gehoor te word nie. Daarom moet jy opoffer. Ter wille van Die Kuns.

Jou senuwees.

Jou sanity.

Een stoot jou van agter af en een trek jou van voor af en jy moet teen die loopplank op. Genade is daar nie, net ’n River Rat en oë wat jou wreed aangluur. “As dié vrou ons vandag ophou met haar neurose, voer ons haar vir die visse.”

Ek sak op ’n stoel neer toe ek met ’n sug van verligting aan boord kom. Hier sit ek nou, neem ek my voor. Met my oë toe tot ons weer voet aan wal sit. Dan moet iémand maar sukkel om my van die boot af te kry. Ek het nie gevra om hier te wees nie!

Maar ek is te nuuskierig om met my oë toe te sit. . .

Want almal lag en ek hoor glasies klink.

En dié dag sien ek dinge wat my oë nog nie voorheen gesien het nie.

Hoe Chanette . . . sy hét mos ’n gesig én ’n lyf wat ’n duisend skepe kan laat sink . . . doodsveragtend oor die reling van die boot klouter om op die boeg te gaan staan om die boot aan ’n boom vas te maak. Sodat ons nie terwyl die wyn soos rivierwater in vloed vloei, seewaarts vaar sonder dat ons daarvan weet nie. Look Ma! No hands!

Dié vrou hou daarvan om gevaarlik te leef, besef ek. Daarom skryf sy roekelose verslae wanneer manuskripte by haar gaan draai het en daarom balanseer sy haar soos ’n akrobaat met ’n doodswens waar engele maar eerder versigtig sou verbyhou. En maak sy knope in die tou waarvan ons ander nog net gehoor het.

En daar lê ons toe – oorgelewer aan wind en weer en genadelose son vanuit ’n wolklose hemel. In die middel van die rivier met geen vaste aarde bereikbaar nie. What to do, what to do? Panic? Flou val? Histeries raak? Uitfreak? Mense byloop en klap dat hul ore, wat nie wou hoor nie, wapper?

Verder word daar ’n hek oopgemaak sodat die water en die gevare van die water nader aan ons is en ’n mens makliker kan uitval om na benede te stort.

Om nooit weer kop bo water te kry nie.

En . . . voor my oë, voor my verstarde oë glip Die Stanford-vrou die water in. Grasieus en asof dit normaal is vir ’n vrou met haar verstand in plek om haar vollyf in daardie malende diep, donker water te werp. En daar gaat sy, verder van die moederskip af weg, al hoe verder, verder totdat ’n mens net haar koppie doer ver kan sien dobber.

Sorry, Chanette, besluit ek, ek gaan jou nie red nie, ek gaan nie eens probeer nie. En ek gaan ook nie iemand agter jou aanstuur nie. Jy wóú mos afshow, jy moes van beter geweet het.

Ek soek die naakte vrees op haar gesig, maar daar is niks. Sy lag in die aangesig van die dood, draai op haar rug en dryf asof sy ’n blaar in die wind is. Wat haar bo hou, weet g’n mens nie en sy gaan ook nie sê nie.

Maar toe onthou ek – die vroumens is mos min of meer ’n meermin. Waternimf van formaat met die hart van ’n vis en ’n vredesooreenkoms met die see. Geen wonder die waterwesens is haar goedgesind nie, geen wonder hulle los haar uit nie.

Maar die malligheid is aansteeklik en die inkubasietydperk is nie besonder lank nie. Een na die ander tuimel die res van die seevaarders ook die water in. Met plasgeluide en met gilletjies wat die watervoëls verskrik laat wegvlieg, maar infoeter, foeter hulle in.

Dis net ék wat weet wat op my wag as ek dit in die onbekende sou waag – daar waar die waterwesens in ’n ry my staan en inwag met slagtande, die wat slagtande het en met gapende visbekke, die wat visbekke het.

Ek kyk na die spartelende swemmers om my en ek neem ’n besluit oor die wat voete én die wat vinne het: Jammer om julle én hulle teleur te stel, besluit ek – maar ék is nie mal is nie – en dis bloot toevallig dat ek nie kan swem nie, veral nie in water wat ver, ver oor my kop sal wees nie. Sodat alles om my donker sal wees as ek met ’n helse splash daarin sou beland. En niemand, nee, niemand my sal kom uithaal wanneer ek soos ’n rots sink nie. Want hulle is skrywers, almal van hulle – en hulle hou van ’n goeie storie. Een wat opbou tot ’n hoogtepunt, wel in hierdie geval, ’n laagtepunt vir mý, wat diep, diep onder op die bodem van die rivier bereik sou word. Se voet, besluit ek. I aim to please, maar darem net binne perke.

Daarom is dit toe net ék wat droogvoets . . . wel soort van . . . op die boot bly.

Ek – en darem ook die skipper.

Die skipper . . . o, die skipper, die kaptein van die skip . . . die held van die dag.

Lapa, liewe, liewe Lapa, maak julle gereed vir ’n hele reeks Romanzas met ’n riviervaart-tema en . . . ’n blonde skipper met ’n poniestert as romantiese held.

Lank ná die drie ure waarvoor die Prozak gesluk is, sit ons nog daar in die ondergaande son op die water.

Maar ek freak darem nie uit nie, wel nie heeltemal nie. Ek hou kop. En die res darem ook. Soort van.

En die skipper onthou ten minste nog waar Noord of Suid of Whatever min of meer is en keer weer huiswaarts. Daar waar die droë grond is, daar waar ons as aardbewoners hoort.

Het ek al gesê dat dit ’n heerlike dag was?